CMsAqRsWcAEu92K

Elsenburg-studente ruk op vir Afrikaans

Honderde studente van die Elsenburg Landbou-opleidingsinstituut het vandag ʼn optog gehou waartydens ʼn memorandum aan die instituut se bestuur oorhandig is. Dit volg nadat die bestuur die afgelope tyd versuim het om op te tree teen studente wat medestudente van hul reg tot onderrig op onregmatige wyse ontneem het. Die studente het ondersteuning vanaf twee eksterne organisasies, AfriForum Jeug en Adam Tas Studentevereniging, bekom nadat hulle raadop was.

Talle skrywes, waaronder aanmaningsbriewe, mosies van wantroue asook ʼn lys van besware, is die afgelope tyd aan die bestuur gerig. Die bestuur het Maandag, 17 Augustus egter op ʼn niksseggende wyse hierop gereageer.

“Die brief van die bestuur was duidelik ʼn poging om die belanghebbendes te paai. Dit is duidelik dat hulle die probleem vermy met die hoop dat dit ʼn stille dood sal sterf,” het Pieter Burger, voorsitter van die Adam Tas Studentevereniging, gesê.

Indien die bestuur versuim om binne ʼn redelike tyd aan die studente se eise te voldoen, gaan dit ernstige finansiële en regtelike gevolge vir Elsenburg inhou.

“Afrikaans as onderrigtaal is elke student se grondwetlike reg. Hier is duidelik ʼn poging om van Afrikaans ontslae te raak, ons sal nie bystaan en toeskouers wees nie. Die massas studente wat opgedaag het, toon duidelik dat studente Afrikaans wil behou,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

 

Lees die memorandum hierELSENBURG MEMORANDUM