AfriForum-Tuks-muurverf-aksie

EFF ontwrig AfriForum Jeug-aksie by Tuks

EFF-studenteleiers het gisteraand ʼn AfriForum Jeug-verfaksie by die Universiteit van Pretoria (UP) ontwrig, waarna kampussekuriteit moes ingryp. Hierdie aksie is gereël om studente bewus te maak van die AfriForum-beurskompetisie wat verlede week geloods is. Die kompetisie behels in kort dat vier studente wat in Afrikaans studeer, die kans staan om elk ʼn beurs van R20 000 te wen.

Die EFF-studenteleiers is deur sekuriteit verwyder omdat hulle onder meer aggressief was en rassistiese uitlatings en ongegronde aantygings gemaak het. Hulle het ook onwettige pamflette ten bate van hul #AFRIKAANSMUSTFALL-veldtog op die kampus versprei.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se kampuskoördineerder vir Tuks, het die EFF slegs opgedaag om geweld aan te hits en hulle ideologie deur middel van anargie te bevorder.

“Die EFF het plakkate op kampus versprei sonder dat dit die goedgekeurde stempel van die universiteit bevat en dus is dié aksie ontoelaatbaar volgens kampusreëls. AfriForum Jeug se Tukkies-tak is al oor die vingers getik oor plakkate wat versprei is wat nie aan al die kampusvereistes voldoen nie, en ons het ons kantoorspasie op kampus verloor.”

Die burgerregte-waghond het ʼn skriftelike versoek aan dr. Willem Jorrisen, direkteur van studentesake aan die UP, gestuur waarin gevra word dat daar teen die EFF opgetree moet word en dat dié organisasie oor dieselfde kam as AfriForum Jeug-lede geskeer moet word met betrekking tot die verspreiding van onwettige pamflette op kampus.

Raak vandag nog by AfriForum Jeug se beursinisiatief betrokke. SMS jou naam en die naam van die kampus waar jy studeer na 32687 (R1).