Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

Dié een was vir jou, oupa George

deur in Blog Hou ons hier dop op 24 June, 2015

My naam is John-Henry Sinclair. Ek is ’n student in my finale jaar aan die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies).

Ek is ’n positiewe, jong Vrystaatse Afrikanerseun. Dít in ’n samelewing waar my suster al amper verkrag, my broer in ons huis deur rowers aangehou is en ek my oupa George deur ’n plaasmoord verloor het.

Dit is waarom ek besluit het om Kilimanjaro aan te durf. Ek het dit gedoen, want ten spyte van al die “berge” wat ons op dié kontinent moet oorkom, moet ek aangaan…

Ek het nog altyd ’n avontuurlustige gees gehad, maar die gedagte om Kilimanjaro in Tanzanië te klim, het nog nooit regtig by my opgekom nie. Maar ná al die slegte gebeurtenisse, was ek vasbeslote om net weg te breek.

Net soos ek my brein daagliks gefokus moes kry vir die groot klim, het ek ook my liggaam gedissiplineer. Daagliks het ek gedraf en fiets gery om te verseker ek gaan die piek bereik. Maar niks kan jou vir “hoogtesiekte” voorberei nie – maak nie saak hoe fiks jy is nie.

Die uitstappie was sommer van die begin af ’n uitdaging. Ons aansluitingsvlug vanaf Nairobi Lughawe in Kenia na Kilimanjaro Lughawe in Tanzanië was vertraag. Dit het beteken dat ons slegs ʼn uur gehad het om ons volgende vlug te haal. Ná ʼn groot gesukkel by die deursoekpunt, het ons met skoene en gordels in ons hande die volgende vlug bestorm en ons was net-net betyds. Op Kilimanjaro Lughawe het nóg ʼn ramp ons getref – my een vriend se rugsak was verlore. En dit boonop die sak met sy stapskoene in. Ná ʼn paar uur van worstel op die lughawe, het ons sy sak opgespoor.

Die volgende oggend het ons na Kilimanjaro se Machame-hek, die beginpunt, vertrek met ʼn kombi en ons twee gidse. Ek kon nie die berg sien nie, want dit was reënerig en mistig. Al ses dae van die klimtog was gekenmerk deur reën, ysreën en selfs ʼn sneeustorm op pad na die piek. Maar ek het onthou elke tree was vir my oupa. Elke tree was teen plaasmoorde.

Die klim was ses dae in totaal en ek het aanskou hoe ander klimmers gesukkel het met hoogtesiekte. Elke tree wat hulle gegee het, het my herinner aan die gesukkel ná my oupa se dood. Elke tree was ’n geveg. Naby die piek het al die water in my waterbottels gevries en my een vriend het selfs begin hallusineer. My ander vriend het ontsaglike hoofpyne ontwikkel en ek wou flou neerval weens te min suurstof na my brein. Ten spyte van dié struikelblokke, kon ons nie regtig stop nie, want dit was net té koud.

Ons laaste klim tot op die piek het reeds twaalfuur die nag begin. Die enigste rede hiervoor was om die Afrika-son eerste te kon aanskou. Maar alles verloop nie altyd volgens plan nie. In stede van die son op ons gesigte, het ons ’n hewige sneeustorm tegemoetgegaan. Maar ons het deurgedruk. Langs my vriende het ek regtig geseënd gevoel, want dit was ʼn ongelooflike uitdaging en herinneringe wat ek vir die res van my lewe sal saamdra. Ek het weereens besef dat daardie oomblikke wat jou asem wegslaan, die belangrikste in die lewe is.

Die dood van my oupa het my hard getref. Maar nadat ek Kilimanjaro oorkom het, het ek besef die lewe gaan maar altyd ʼn berg na jou kant toe gooi…