5451407168480b43bcb864e1-995x1024-1

Dan Kgwadi verantwoordelik vir chaos op Puk

AfriForum Jeug het met skok kennis geneem van ʼn gewelddadige protesoptog vanmiddag op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit.

Sowat 180 studente van al drie NWU-kampusse het aan ’n optog voor die Institusionele Kantoor deelgeneem, maar die polisie moes rubberkoeëls en skokgranate gebruik om die skare onder bedwang te bring. Dít, nadat die protesgangers glo nie deur die staalhekke op die kampus toegelaat is nie.

AfriForum Jeug het verneem dat prof. Dan Kgwadi, die visekanselier, toestemming gegee het vir die protesoptrede en dat hy die studente se beswaarskrif in ontvangs moes neem.

Dit is die eerste gewelddadige optog in die geskiedenis van die Puk.

“Hierdie is tekens van ʼn leierlose universiteit waar die visekanselier gereeld polariserende uitsprake maak en Afrikaans die sondebok van alle probleme maak. Vandag se gebeure kan rassespanning op die kampus verhoog, en dit is die laaste ding wat ons nodig het,” het Eduan Dupper, woordvoerder van AfriForum Jeug, gesê.

 

“Prof. Kgwadi moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir die wanorde wat vandag uitgebreek het. Dit is onaanvaarbaar dat studente van ander kampusse aangery word om wanorde te saai op ʼn normaalweg stil kampus. Ons wil weet wat prof. Kgwadi gaan doen rakende vandag se gebeure.”

 

Kyk die video HIER