Pukke

Beplande ingryping by Puk ‘n aanslag op Afrikaans, Beeld-redakteur aandadig – AfriForum Jeug

AfriForum Jeug beskou die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande se reaksie op die sogenaamde Puk-insident as bewys dat die minister ʼn vooropgestelde politieke agenda het. 

Nog voordat die minister die verslag wat deur die Noordwes-Universiteit (NWU) se bestuur opgestel is, gelees het, het hy reeds besluit dat ‘n radikale transformasieproses die enigste oplossing vir die situasie is. Hy gaan selfs so ver as om te beklemtoon dat die universiteit hom nie uit hierdie insidente mag verduidelik nie maar moet optree om dit op te los. Nzimande het bygevoeg dat hy ‘n probleem met koshuise in Afrikaanse universiteite in die algemeen het. “Ons gevolgtrekking is dat Nzimande van voorneme is om die taalbeleid en Afrikaanse karakter van die NWU te hersien,” het Henk Maree, die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

Volgens Maree is dit tragies dat die redakteur van die Afrikaanse dagblad Beeld, Adriaan Basson, ‘n toonaangewende rol gespeel het om ‘n kunsmatige krisis te skep wat die minister se beplande ingryping en aanval op Afrikaans moontlik kon maak. Dit maak Basson volgens Maree aandadig aan die radikale transformasieproses wat Nzimande beplan. Maree het daarop gewys dat Basson sy koerant as voertuig misbruik het om ‘n ou voorval op te diep en op sensasionele wyse as nuwe nuus aan te bied. Basson het volgens Maree ook versuim om sy persoonlike belang te verklaar, nl. dat een van sy vriendinne met wie hy in die verlede ‘n huis gedeel het, as Puk-dosent in die kern van die dispuut staan waaroor Beeld nou ‘n kruistog voer. Die dosent het intussen ná ‘n skikking met die NWU bedank.

“AfriForum Jeug is sterk ten gunste van mediavryheid. Vir ‘n redakteur om egter sy koerant te misbruik om ‘n byltjie namens ‘n vriendin met ‘n universiteit te slyp en in die proses die universiteit se Afrikaanse status in gedrang te bring, is nie mediavryheid nie, maar onetiese joernalistiek,” het Maree gesê.