university_iStock_000016620805XSmall-731x325-1

ANC weerhou universiteitstoelating van 2,8 miljoen skoliere

In die afgelope vyf jaar het die ANC-regering meer as 2, 8 miljoen skoliere weerhou van universiteitsonderrig. Dié getal dui op die hoeveelheid leerlinge wat nie universiteitstoelating ontvang het nie.

In 2015 het ʼn skamele 20% van leerlinge universiteitstoelating ontvang. Die swak slaagsyfer is ook ʼn verdere bewys dat die magsbehepde ANC die toekoms van Suid-Afrikaanse jongmense vernietig. AfriForum Jeug is van mening dat gemeenskapsbeheer die enigste oplossing is aangesien die staat nie bevoeg is om aan bewind van die onderwysstelsel te wees nie.

“Dit is uiters belangrik dat gemeenskappe deelneem aan beheerliggaamverkiesings en aktiwiteite om ten einde beter gehaltebeheer by staatsskole te verseker,” het Ian Cameron, woordvoerder van AfriForum Jeug, gesê.

AfriForum Jeug meen dat as gemeenskappe meer beheer het oor hul plaaslike skole, sal die gehalte van onderrig verbeter met die gevolg dat die slaagsyfer sal styg. Dit sal ook ouers se betrokkenheid by hul kinders se skole bevorder.

“Pres. Jacob Zuma, wat self nie eers matriek voltooi het nie, se kommentaar dat onsuksesvolle matrikulante ondersteun moet word omdat daar volgens hom nog baie ander geleenthede sal wees, dui direk op die staat se tekort aan insig en kennis om die probleem op te los,” het Cameron gesê.