Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

ANC-regering nie ernstig oor SA jeug

deur in Hou ons hier dop op 15 June, 2015

Op die vooraand van nasionale Jeugdag is dit duidelik dat die ANC-regering met niks anders as lippediens besig is as hy oor die toekoms van die land se jeug praat nie. Net sowat 30% van parlementslede het Vrydag die gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering en Nasionale Raad van Provinsies in Kaapstad tydens die debat oor Jeugdag bygewoon. 

Eduan Dupper, ondervoorsitter van AfriForum Jeug, meen dit is ’n baie goeie voorbeeld van hoe min die ANC werklik oor die jeug en die enorme probleem van jeugwerkloosheid omgee.

Volgens Dupper het die meeste parlementslede tydens hul spreekbeurt kwessies soos dwelmmisbruik, oordrag van MIV/vigs, tienerswangerskap en werkloosheid as probleme geïdentifiseer, terwyl geen klinkklare oplossings hiervoor gebied is nie.

Dupper meen dit is belaglik dat Buti Manamela, adjunk-minister in die presidensie, daarop roem dat die ANC  ’n regering is wat vir die jeug omgee. Hy het onder meer gesê dat die ANC-administrasie die behoeftes, belange en aspirasies van die jeug ter harte neem.

Dupper het gesê Manamela se verwysing dat daar gestreef word na ’n land waar almal saam woon sonder dat ras enigsins in ag geneem word, is in totale teenstelling met beleide soos regstellende aksie (rasstellende aksie), kwotas in sport en universiteitstoelating.

Oor die plan om meer as ’n miljoen jeugdiges binne twee jaar deel van die nasionale jeugdiens te maak, meen Dupper is dit ’n totaal onhaalbare droom. “Hoewel die diens glo ten doel het om werksgeleenthede vir die jeug te skep, is daar nog weinig inligting daaroor of die instelling daarvan beskikbaar.”

Dupper het ook Manamela se uitlating dat die nasionale jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) die afgelope jaar R29 miljoen aan 1 043 jongmense uitbetaal het wat tot 4 347 werksgeleenthede gelei het, bevraagteken.

Volgens beskikbare statistieke is ’n derde van alle jeugdiges tussen 15 en 24 jaar werkloos.

“Dié syfers is baie kommerwekkend en dit is duidelik dat die ANC-regering nie ’n werkbare oplossing het om die situasie om te draai nie. As die probleem van jeugwerkloosheid nie ’n prioriteit vir die regering word nie, sal Suid-Afrika toenemend onder misdaad en geweld deurloop.”

AfriForum Jeug se standpunt is dat die eerste plek waar begin moet word om hierdie probleem te takel, die regruk van die powere skoolstelsel is. “Voorts moet die regering regulasies verslap sodat dit makliker vir jeugdiges kan wees om ondernemings te begin en entrepreneurs te word.”

 

In die foto’s kan gesien word hoe min parlementslede teenwoordig was tydens die debat oor Jeugdag op 11 Junie.

Min parlementslede het die debat oor Jeugdag bygewoon

Min parlementslede het die debat oor Jeugdag bygewoon

Min parlementslede het die debat oor Jeugdag bygewoon

Min parlementslede het die debat oor Jeugdag bygewoon