ANC-jeugliga

ANC Jeugliga aan flarde

AfriForum Jeug verwelkom die aankondiging dat die ANC Jeugliga se nasionale taakspan ontbind is deur die ANC se topbestuur. AfriForum Jeug meen egter dat dit nie ʼn skokbesluit is nie, aangesien die Jeugliga reeds vir jare nie meer ’n rolspeler is onder die jeug in Suid-Afrika nie.

“Oor die afgelope paar jaar kon die afname in steun vir die ANC Jeugliga veral op kampusse gesien word. Tydens studenteraadsverkiesings werf die jeugliga glad nie meer die steun wat hulle jare gelede gehad het nie,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Die bekommernis van die ANC-topbestuur oor die wanorde op plaaslike vlak van die jeugliga en die beweerde aanklagte van korrupsie teen ’n presidentskandidaat is nie verbasend nie.

“Tydens ’n onlangse vergadering het ANC-lede mekaar met stoele bygedam. Die ANC Jeugliga kry die voorbeeld van korrupsie by die ANC se topbestuur en Suid-Afrika se president. Die jeugliga is net besig om die slegte voorbeeld wat deur die regerende party gestel word na te boots,” het Maree afgesluit.