Chumani-Maxwele

AfriForum Youth welcomes suspension of controversial UCT student

AfriForum Jeug verwelkom die skorsing van Chumani Maxwele, die student verantwoordelik vir die #RhodesMustFall-veldtog by die Universiteit van Kaapstad (UK). Maxwele is geskors nadat hy rassistiese opmerkings teenoor ʼn dosent gemaak het.

“Maxwele het hom skuldig gemaak aan growwe rassisme wat nie op universiteitskampusse hoort nie. Die universiteit het ʼn verantwoordelikheid teenoor die hele studentegemeenskap om studente wat hulle aan sulke gedrag skuldig maak verantwoordelik te hou vir hulle uitlatings, en hulle behoort verdere stappe teen Maxwele te neem,” het Eduan Dupper, woordvoerder vir AfriForum Jeug gesê.

Maxwele het na bewering die volgende uitlatings gemaak teenoor ’n wit dosent:

  • “the statue fell; now it’s time for all whites to go.”
  • “We must not listen to whites, we do not need their apologies, they have to be removed from UCT and have to be killed.”
  • Hy het ook gesê dat hy nie belangstel in die opinie van witmense nie en dat hulle doodgemaak moet word.

“Uit hierdie optrede is dit duidelik dat Maxwele ʼn rassis is wat ʼn rasse-ideologie navolg om ʼn politieke agenda te dryf. Dit is skokkend om te sien dat die ANC-jeugliga hulle by iemand soos Maxwele skaar,” het Dupper gesê.

“Dit is egter verblydend om te sien dat die universiteit hulself nie meer gyselaar laat hou deur Maxwele nie. Hy moes reeds met die #RhodesMustFall-debakel geskors geword het weens sy optrede en opsweping van mede-studente.”

AfriForum Jeug is in gesprek met hul regspan om die moontlikheid van haatspraakklagtes teen Maxwele by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en ander menseregte-liggame te ondersoek.