AfriForum wen studenteraadsverkiesing by Tukkies!

AfriForum Jeug het gister stof in die oë van ander kampus-organisasies geskop deur 50% van die verkose setels van die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) by die Universiteit van Pretoria (UP) se studenteraadsverkiesing op te raap.

“AfriForum Jeug gaan in die volgende jaar vir Afrikaans ’n vastrapplek gee, verhoed dat koshuise in woonstelblokke verander en studente mobiliseer om op te staan teen rasgedrewe beleide,” het Monique du Randt, woordvoerder van AfriForum Jeug, gesê.

AfriForum Jeug het 6 uit die 12  setels verkry, insluitend twee setels op die uitvoerende bestuur van die studenteraad.

Die uitslag van die verkiesing is soos volg:

  • AfriForum Jeug – 50%    (6 setels)
  • Radical Youth Coalition – 8.3%   (1 setel)
  • South African Student Congress (SASCO) – 8,3%   (1 setel)
  • Democratic Alliance Student Organisation (DASO) – 8.3%   (1 setel)
  • Onafhanklike kandidate – 25,1% (3 setels)

“Die tempo waarteen AfriForum Jeug se steun onder jongmense groei, is ʼn bewys van die stem van protes wat onder studente posvat teen die ANC se rasse-ideologie wat deurgaans op universiteitskampusse deurgestoomroller word,” het Eduan Dupper, adjunk voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

AfriForum Jeug het die portefeuljes van penningmeester, adjunk sekretaris, studie finansiering, nagraadse en internasionale studente en transformasie verower.

Die studenteraad word verder saamgestel deur ʼn ekstra sewe ex officio lede uit ander strukture soos Tuks Jool, koshuise, studentesport, studentekultuur en akademiese organisasies.

Studente kon in totaal tussen een en 10 kruisies onder die sowat 60 kandidate verdeel. AfriForum Jeug het ‘n totaal van 12 537 ingeoes.