AfriForum-Jeug-verf-die-heining-by-Bloedrivier-2

AfriForum #selfdoenprojek170: Jeug verf heining by Bloedrivier-erfenisgebied

Studente van universiteite regoor Suid-Afrika het vandag die heining van die Bloedrivier-erfenisgebied in KwaZulu-Natal oorgeverf. Dié heining is ʼn uitbeelding van die Ossewa-laer wat sowat 470 Voortrekkers, onder leiding van Andries Pretorius, getrek het om hulle teen die Zoeloe-impies te beskerm.

“AfriForum Jeug voel sterk dat ʼn kultuur van selfdoen onder jongmense moet posvat. Dit is ons verantwoordelikheid om by te dra tot die instandhouding van ons geskiedkundige monumente en erfenisgebiede. AfriForum Jeug dra op hierdie manier by tot AfriForum se 10 Dae van Selfstandigheid,” sê Monique du Randt, woordvoerder van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug het Vrydag afgeskop met hul jaarlikse leierskapstoer. Die doel van dié toer is om jong Afrikaners meer oor hul erfenis te leer én om hul leierskapsvaardighede te ontwikkel.

“Dit is belangrik dat ons ons erfenis ken, omdat ons voorvaders hard gewerk, en verskeie kere geval en opgestaan het, vir ons toekoms in hierdie mooi land. Ons moet ons waardering daarvoor wys deur meer daaroor te wíl leer,” sê David Rule, ʼn student van die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit.

Talle ander Afrikaner-gedenktekens sal nog gerestoureer word, en jongmense word aangemoedig om ʼn bydrae te lewer.

“Deur studente jaarliks bloot te stel aan ʼn deel van hul geskiedenis, word daar Afrikaner-trots gekweek en studente word opnuut aangevuur om skouer aan die wiel te sit vir hul land, taal, kultuur en erfenis,” het Du Randt gesê.