AfriForum Jeug woeker ook nou in plaaslike gemeenskappe

AfriForum Jeug het in 2016 ’n baadjie van vele kleure aangetrek. Ons moes noodgedwonge talle kere sedert die begin van die jaar die opstaan-en-baklei-baadjie aantrek om verskeie kampuskwessies te help beredder, waaronder “Afrikaans sal bly”.

AfriForum Jeug moes opstaan vir die plek van Afrikaners op Suid-Afrikaanse universiteitskampusse en in Suid-Afrikaanse howe baklei vir die voortbestaan van Afrikaans op hierdie kampusse. AfriForum Jeug moes ook die student-wees-baadjie aantrek en toesien dat gesonde studentetradisies voortbestaan en dat studente regverdig behandel word en ’n vry, veilige en voorspoedige studentelewe kan geniet. AfriForum Jeug was in 2016 ’n waghond op Tuks, Kovsies, KSUT, Maties en Pukke, maar vir die eerste keer in 2016 was AfriForum Jeug ook aktief betrokke in plaaslike gemeenskappe regoor Suid-Afrika.

In 2016 het AfriForum Jeug ’n droom verwesenlik deur uiteindelik ook ’n gemeenskapsbaadjie aan te trek om jeugstrukture op gemeenskapsvlak te vestig. Hierdie strukture het ten doel om ons jeug die geleentheid te bied om ’n verskil in hul gemeenskappe te maak. Van selfdoen, skoonmaak, bome plant, skole verbeter, erfenisgebiede herstel en slaggate herstel tot saambraai en rugbytoernooie aanbied. AfriForum Jeug het in April 2016 begin om jeugstrukture in plaaslike gemeenskappe te vestig en sluit 2016 baie opgewonde af met 71 amptelike gemeenskapjeugstrukture regoor Suid-Afrika.

Die jeugstrukture in ons dorpe het ten doel om ons jeug te mobiliseer om saam ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe te kan maak. Die jeugstrukture bestaan uit drie belangrike komponente, naamlik aktivisme, selfdoen en om sosiaal te verkeer. Ek verduidelik graag…

Die aktivistiese been het nie ten doel om kompetisie vir enige radikale groepe (waarvan ons almal aan een spesifieke groep kan dink) te wees nie. Al wat ons aan die brand steek is braaivleisvure. Ons het spesifieke riglyne vir ons aktivistiese aksies en die doel daarmee is bloot om druk uit te oefen op instellings wat die gemeenskap in die steek gelaat het of om ʼn spesifieke boodskap duidelik oor te dra. Hier verwys ons altyd graag na die voorbeeld waar die jeug byvoorbeeld sakke vol vullis aan die plaaslike munisipaliteit op hul voorstoep oorhandig. Die vullis word deur die jeug self opgetel nadat die munisipaliteit nie hul funksie uitgevoer het om byvoorbeeld die gebied rondom die plaaslike skool skoon te hou nie.

Ons selfdoenkomponent is ’n baie belangrike deel van die jeugstruktuur aangesien dit ons hooffokus is met die groter takstruktuur. Dit is vir ons as jeug belangrik om nie in die staat se oë te kyk om vir ons ’n toekoms in Suid-Afrika te verseker nie, maar om self eienaarskap van ons toekoms te neem en dit ook vir onsself te vestig. Daarom wag ons nie vir die staat vir dienslewering nie, maar neem self verantwoordelikheid vir ons gemeenskappe se vooruitgang en veiligheid deur deel te neem aan buurtwagpatrollies en selfdoenaksies. Ons glo steeds daarin om die staat verantwoordelik te hou vir hulle pligte aangesien ons ouers Zuma se Nkandla afbetaal met hulle swaarverdiende belastingsgeld en dit nie ons doel is om hulle werk vir hulle te doen nie.

Die belangrikheid van die sosiale komponent is nie regtig onderhandelbaar nie. Ons is die jeug – dus is daar ’n rede waarom ek die beste vir laaste los. Gesonde sosiale interaksies in ons gemeenskappe is baie belangrik. Daarom braai ons saam, hou ons ’n dans in ’n plaaslike boer se stoor en speel ons ook rugby.

2016 was bloot die begin vir AfriForum Jeug. Ons is baie opgewonde om ons jeugstrukture in 2017 selfs verder uit te brei en ons bestaande strukture aktief te betrek in ons plaaslike gemeenskappe.

Is jy tussen die ouderdomme van 15 en 35? Weet jy wat ad fundum beteken of het jy al ’n braaivleisparlement bygewoon? Trek in 2017 jou AfriForum Jeug-baadjie aan en kom vind uit. Die enigste ding beter as daardie eerste soen agter die paviljoen is ’n selfdoenaksie saam met AfriForum Jeug!

Marlé Odendaal