AfriForum Jeug wen topposisies in Tukkies se VSR-verkiesing

AfriForum Jeug het pas aangekondig dat hulle topposisies in die VSR-verkiesing (Verteenwoordigende Studenteraad) van 17 Oktober by die Universiteit van Pretoria verower het. Dit sluit in die president en sekretaris. AfriForum Jeug se kandidate het ʼn totaal van 15 366 stemme gekry, terwyl die DA-kandidate 9 627 stemme gekry het.

“Die uitslag van die verkiesing bewys weereens dat studente bewus is van die goeie werk wat AfriForum Jeug regdeur die jaar doen om studente se regte te beskerm. Studente vertrou ons om hulle belange op die hoogste vlak van studentebestuur te verteenwoordig,” sê Eduan Dupper, woordvoerder van AfriForum Jeug Tukkies.

AfriForum Jeug het twee addisionele portefeuljes asook ʼn ex officio-posisie verower, wat die getal AfriForum Jeug-verteenwoordigers op vyf te staan bring.

“Dit is die derde agtereenvolgende VSR-verkiesing waar AfriForum Jeug se kandidate die meerderheid stemme behaal,” sê Dupper.

Die 2013 VSR-vekiesing is die eerste keer wat Tukkies ’n studenteraadsverkiesing onder ʼn nuwe grondwet hou.

“Die VSR is verkies vir studente, deur studente. Ons sal seker maak dat daar na studente se belange omgesien word en dat daar werklik gelyke geleenthede vir studente geskep word,” het Enwee Human, die nuutverkose VSR-president, gesê.

“Dit skep hoop om te sien hoeveel steun daar onder jongmense vir AfriForum is,” het die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, gesê.

AfriForum Jeug sal regdeur die komende jaar verseker dat hulle verkiesingsbeloftes, naamlik die uitbou van moedertaalonderrig, beskerming van gesonde studentetradisies en die afskaffing van rasseklassifikasie, gestand doen en dat die VSR deurlopend verantwoordbaar gehou word.