Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

AfriForum Jeug vra volledige ondersoek by Hoër Landbouskool Noord-Kaapland

deur in Hou ons hier dop op 10 February, 2015

Terwyl vier leerlinge van die Hoër Landbouskool Noord-Kaapland geskors is oor beweerde verkragting en aanranding van ’n mede-koshuisleerling, het nog ouers na vore gekom wat meen alles is nie pluis by dié skool nie.

Die ouers wil onder meer hê dat ’n volledige ondersoek ook na die hoof, mnr. Moatlhodi Sekobe, en sy bestuurstyl gedoen word.
Besorgde ouers het aan AfriForum gesê hulle is ook bekommerd oor verwikkelinge na die voorval. “Die ANC-Jeugliga het na die skool opgeruk en betoog en van ons kinders het gebel en gesê dreigemente is gemaak dat die skool afgebrand en die leerlinge aangerand gaan word. Ons is bekommerd oor hul veiligheid.”

Die jeugliga het leerlinge van die naburige Tlhwahalang High School saamgesleep om te betoog waar hulle onder meer geëis het dat Sekobe verwyder moet word.
’n Ouer, wat uit vrees vir viktimisering van haar kind anoniem wil bly, het gesê die gevoel is dat die voorval waarskynlik voorkom kon gewees het as die hoof die skool behoorlik en doeltreffend bestuur het.

Sekobe was voorheen by die omstrede Tlhwahalang betrokke waar hy glo onder verdagte omstandighede weg is na beskuldigings teen hom gemaak is.
Die skool was in 2013 in die nuus na die kop van die hoof, Aubrey Modiakgotlha, geëis is. Hy is by beweerde korrupsie en sameswering betrek, maar klagtes is laat vaar weens ’n gebrek aan bewyse. Die skoolgemeenskap was toe erg verdeel.

Van die ouers by die Landbouskool is glo ongelukkig met Sekobe omdat hy na bewering inmeng by aanstellings wat gemaak word en die beheerliggaam nie raadpleeg in besluite wat hy neem nie. Daar is glo ook al voorheen by die onderwysdepartement gekla oor voorvalle wat by die skool gebeur het, maar niks het daarvan gekom nie.

Daar is ook klagtes oor die wyse waarop die koshuis bestuur word waar die voorval plaasgevind het. AfriForum is ingelig dat daar onderwysers van Tlhwahalang Skool bly wat niks met die Landbouskool te doen het nie en dat buitestaanders eenvoudig kom en gaan soos hulle wil.

Henk Maree, AfriForum Jeug se woordvoerder, het gesê in die lig van die onlangse voorval en die jongste bewerings teen Sekobe, is dit dringend noodsaaklik dat ’n onafhanklike ondersoek by die skool gedoen word.

“Daar kan nie toegelaat word dat skole soos die Landbouskool swak bestuur word of as ’n politieke speelbal gebruik word waar rassespanning aangeblaas word nie. Dit is jammer dat die provinsiale onderwysdepartement nie uit die staanspoor kon besef het dat die voorval nie rasgedrewe was nie aangesien leerlinge van alle rasse betrokke was.”

Die Noord-Kaap onderwysdepartement het intussen by monde van sy woordvoerder, Sydney Stander, die optog veroordeel en gesê die toekoms van kinders kan nie in die weegskaal geplaas word deurdat hulle in skooltyd aan protesoptogte deelneem nie.
Die vier seuns is geskors hangende ’n tugverhoor. Onafhanklik hiervan is daar ’n hofsaak met strafregtelike aanklagte wat die seuns in die gesig staar.

AfriForum Jeug veroordeel alle vorme van aanranding en menseregteskendings by skole, het Maree gesê.

Jan-Kempdorp hoër-landbouskool-noord-kaap-jan-kempdorp