AfriForum Jeug verwelkom geen kwotas by nuwe universiteit in KZN

AfriForum Jeug verwelkom die KwaZulu-Natal premier, Senzo Mchunu, se aankondiging dat daar geen rassekwotas by die nuut beplande mediese universiteit in Newcastle sal geld nie.

“Ons is verheug om te sien dat die nuwe instelling alleenlik studente op meriete gaan keur. Dit is ’n positiewe stap aangesien ander instellings streng rassekwotas het, veral in die mediese rigting, waarvolgens studente gekeur word,” sê Eduan Dupper, woordvoerder van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug is die afgelope drie jaar besig om diskriminerende aansoekprosedures by hoër instellings aan te vat, in spesifiek mediese fakulteite regoor die land en die veeartsenykunde fakulteit aan die Universiteit van Pretoria.

“Meriete as maatstaf verseker toekomstige ekonomiese groei, verhoed broodnodige breinkrag wat die land verlaat en maak seker dat ’n persoon se menswaardigheid nie aangetas word deur sogenaamde transformasie nie. Studente wat uit slegte sosio-ekonomiese omstandighede kom moet eerder bemagtig word deur middel van oorbruggingskursusse en verdere opleiding sodat hulle in staat gestel kan word om gelyk te kan meeding,” meen Dupper.

AfriForum Jeug het laasjaar ‘n memorandum tesame met ‘n petisie, waarin hulle vra dat jongmense vrygestel word van rasseklassifikasie, aan die parlement oorhandig.