AfriForum Jeug verwelkom dwelmklopjag by Potchefstroom Landboukollege

AfriForum Jeug het vandag die suksesvolle dwelmklopjag wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) by die Potchefstroom Landboukollege uitgevoer het, verwelkom. Dít, nadat dié jeugorganisasie vroeër vanjaar talle klagtes, onder meer dwelmhandel by dié kollege ingedien het, maar wat deur die kollegebestuur ontken is.

ʼn Koshuisstudent is onder meer vir dwelmhandel en die besit van dwelms in hegtenis geneem. Dit is na bewering die SASCO-voorsitter van die kampus.

“Hier is nou bewyse dat die Potchefstroomse Landboukollege in ontkenning leef oor die krisisse op die kampus. Die kollegebestuur het versuim om op te tree nadat klagtes ingedien is en deurentyd gesê dat AfriForum Jeug bewyse moet lewer,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

AfriForum Jeug is besig om inligting te bekom wat ook die ander klagtes, soos diefstal, wanadministrasie en onderrigprobleme sal steun, en eis terselfdertyd optrede van die bestuur.

“AfriForum Jeug wil die SAPD gelukwens met hul sukses. Ons het lankal vermoed dat dwelms ʼn probleem is, en wou dit dringend uitgeroei hê, maar die bestuur het ons met ‘n dowe oor begroet. Ons hoop dat die vonds van die SAPD die kollegebestuur nou sal dwing om onmiddellik oor te gaan in aksie,” het Maree afgesluit.