links-view2

AfriForum Jeug versoek Lugmag om Kerkstraatbomslagoffers te vereer

AfriForum Jeug is in samesprekings met die Suid-Afrikaanse Lugmag oor die moontlike oprigting van ʼn gedenkmuur ter herinnering aan die 19 Suid-Afrikaners wie se lewens geëis en die 217 wie in die Kerkstraatbom van 20 Mei 1983 beseer is.

Dié versoek kom, nadat Vryheidspark se naamverifiëringskomitee (NVK) die jeugorganisasie in ʼn brief laat weet het dat ses van die slagoffers se name nie op hul Muur van Name sal verskyn nie, “omdat hul biografiese inligting aandui dat hulle militêre offisiere van die haatlike apartheidstelsel was, wat deur die internasionale gemeenskap as ʼn misdaad teen die mensdom beskryf is”.

Die name wat deur Vryheidspark afgekeur is, is dié van Johannes de Villiers, Izak Jacobus Henning, Wayne Lawrence Kirtley, Anton Nel, Jacob Johannes Ras en Stephanus Sebastian Walters.

“Die redes wat aangevoer is, is ’n bewys van die ontkenning van die geskiedenis. Die eensydige oorvertelling van die geskiedenis deur die ANC, waarin ANC-leiers as onbevlekte helde uitgebeeld word, is verkeerd. Dit is tyd dat ons land se geskiedenis in sy geheel vertel word,” sê Henk Maree, die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug. 

Vryheidspark het gesê verdere navorsing is nodig om te bepaal of die ander slagoffers onskuldige burgerlikes was, en het die jeugorganisasie aangeraai om hul versoek weer in te dien vir oorweging.

“21 Suid-Afrikaners is op daardie donker dag dood. 19 was burgerlikes, twee was Umkhonto we Sizwe-soldate wat by die bomplanting betrokke was. Ons sal aanhou probeer om die slagoffers van dié ANC-terreuraanval te vereer,” het Maree afgesluit. 

 

  • AfriForum Jeug het ʼn gedenkvideo vir die slagoffers van die Kerkstraatbom vervaardig. Dié video kan op AfriForum se YouTube-kanaal gekyk word deur hier te kliek

links-view2right-view Pano-1