Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

AfriForum Jeug vat vlam in 2014

deur in Hou ons hier dop op 04 December, 2014

AfriForum Jeug het vanjaar as studenteregte-organisasie vlam gevat en gewys dat jongmense in ons land hul taal, kultuur en tradisies bly koester.

Hierdie kultuurryke Afrikaanse jeugorganisasie het die afgelope jaar oorweldigende steun by groot universiteite soos die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van die Vrystaat en die Noord-Wes Universiteit verower. AfriForum Jeug het in Tukkies se studenteraadsverkiesing skoonskip gemaak deur 6 van die 12 posisies te verower en weereens bewys dat studente moeg is vir die leë beloftes van politieke partye en hulle agendas wat niks waardevols vir studente inhou nie.

Suid-Afrikaanse jongmense streef na ʼn diskriminasie-vrye omgewing waar hulle ʼn regverdige kans gegun word om te groei en hulself uit te leef. In werklikheid word minderhede egter daagliks deur instansies gemanipuleer word om hul ras, etnisiteit, taal en kultuur as struikelblokke te beskou in plaas van as iets om op trots te wees. Die ANC, asook nuwe rolspelers soos die EFF, mik daarna om tersiêre onderwysinstellings te ‟nasionaliseer”, wat die marginalisering van minderhede tot gevolg sal hê. Politieke studente-organisasies se betrokkenheid by hierdie instansies het drasties toegeneem en die voer van politieke agendas het ʼn norm by universiteite in Suid-Afrika geword.

As jongmens word jy dikwels aan hierdie politieke agendas blootgestel en word jou realiteit beïnvloed deur opgekookte leuens wat kunsmatig vir jou voorgesit word. Gewilde leuens sluit onder andere in dat Afrikaans ʼn struikelblok tot inklusiwiteit is, dat regstellende aksie regverdige diskriminasie is, dat transformasie die sleutel is tot sukses en dat jou geliefde studentetradisies verkeerd is en afgeskaf moet word omdat dit diversiteit kniehalter. AfriForum Jeug laat hulle egter nie ʼn rat voor die oë draai deur hierdie onwaarhede nie en is vasbeslote om studente te bemagtig om op te staan vir hul regte.

Dit was beslis die hoogtepunt van AfriForum Jeug se jaar toe hulle stof in die oë van ander kampusorganisasies geskop het deur 50% van die verkose setels van die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) by Tukkies op te raap. AfriForum Jeug het 6 uit die 12 setels verkry, waaronder twee setels op die uitvoerende bestuur, terwyl politieke studente-organisasies soos die Demokratiese Alliansie se Studente-organisasie (DASO), die South African Students Congress (SASCO) en die Economic Freedom Fighters (EFF) met een setel elk tevrede moes wees.

 

AfriForum Jeug het vanjaar die volgende suksesse behaal:

  • ʼn baie suksesvolle veldtog is geloods vir die behoud van die huidige koshuisstrukture by Tukkies;
  • ʼn optog is by Kovsies gehou vir die beskerming van koshuise en hulle tradisies;
  • AfriForum Jeug het soos vorige jare bygedra tot die sukses van Tukkies se Lentedag deur dit te borg en dit in samewerking met ander rolspelers aan te bied; so bly een van Tukkies se oudste tradisies behoue;
  • veldtogte is geloods om Jool, Ienkmelodienk, Serrie, Serenade en ander studentetradisies te red;
  • ʼn petisie en memorandum is aan Sanral oorhandig om te eis dat studente vrygestel word van e-tol;
  • die Groenemmerprojek is uitgebrei om kinderhuise wat nie die nodige finansiële steun van die staat ontvang nie verder te ondersteun;
  • die veldtog teen die eensydige oorvertelling van ons geskiedenis is verder gevoer met ʼn kranslegging om die oorledenes en beseerdes van die 1983 ANC-terreuraanval te herdenk;
  • ʼn beursfondskompetisie is geloods om twee graad 12-leerders uit kinderhuise die geleentheid te gee om deur middel van die beursfonds verder te studeer;
  • voortdurende druk is op die bestuur van die Potchefstroomse Landboukollege geplaas om dit te herstel na sy eertydse glorie en om diskriminasie teen studente en Afrikaans op dié kampus hok te slaan.

AfriForum Jeug is ʼn organisasie wat jongmense ontwikkel en bemagtig om leiers in hul gemeenskap te wees. Ons sal aanhou om vir jou taal en jou studenteregte op te staan!

Jeuglede besig om ‘n petisie te dryf teen die beplande veranderinge van koshuise op Tukkies.