Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

AfriForum Jeug-toer 2016

deur in Blog Witwarm op 02 November, 2016

Dis ’n lang pad, maar hulle sê dit gaan die moeite werd wees…

En so skop AfriForum Jeug se toer af met ’n tentopslanery, potjiekos eet en ’n lekker warm stort, onwetend dat dit die eerste stort van min op die toer gaan wees.

Ons het die eerste aand by die Witsand-natuurreservaat oornag, waar ons ’n hele paar lesse geleer het, onder meer dat woestynkamp nie grappies is nie! Jy moet maar van die begin af vrede daarmee maak dat daar nie ’n tekort aan sand is nie en jy gaan vir seker tussen sandkorrels wakker word. (Dis nou te sê as jy enigsins kon slaap die vorige nag.)

Ten spyte van die lang aand wat almal gehad het, is ons in die bussies, sterk op pad duine toe. Weer eens onderskat ek die Kalahari en besef nie dat dit so moeilik is om by ’n duin op te klim nie, maar dit is definitief die moeite werd, want die uitsig van bo af is ’n belewenis op sy eie met die Langeberge in die agtergrond. Dan praat ek nie eers van die hoeveelheid adrenalien wat vloei as jy by die duin afgly nie. Ek leer egter op die harde manier dat om by ’n duin af te gly, moet jy hom eers kan uitklim!

Terug in die beskawing oornag ons in Upington by ’n gastehuis, maar eers gaan ons by oom Freddie op sy plaas buite Kameelpoort aan. Ek het omtrent ’n hoendervleisoomblik beleef toe ek uitvind ek staan op die presiese plek waar Manie Maritz en sy troepe 102 jaar gelede kamp opgeslaan het. Dit was ’n massiewe voorreg. Nadat ons die terrein gefynkam het, braai oom Freddie vir ons boerbokwors, wat almal vreeslik baie geniet het.

Van Upington vertrek ons na Swartmodder. Nog nooit vantevore het ek ’n nes versamelvoëls gesien nie en hier kry ek sommer die kans om onder ’n boom saam hulle te kamp. Ons het vroegerig daar aangekom en die dag rustig onder die boom spandeer terwyl ons gewag het vir die warm Kalahari-son om te sak. Die aand het ons besluit dat dit nutteloos is om vroeg te gaan slaap omdat ’n mens nie ’n pragtige aand in die Kalahari vermors nie. Dit het beteken dat springhase jag aan die orde van die dag was, maar ek dink ons kan dit eerder ’n middernagtelike uitstappie noem. Ons merkers was mooi spesifiek gekies, sodat ons nie verdwaal op pad terug nie, want nie eens die Suiderkruis sou ons in daardie geval kon help nie. Die sterreruim was so oop en helder dat jy sou verdwaal tussen die see van sterre.

Die volgende oggend durf ons weer die lang grondpad aan terug Kakamas toe.

Van Kakamas ry ons na die graf van kmdt. Albert Stadler om eer te betoon. Ons het ook meer geleer oor wie en wat hy was. Sy familie het ons daar ontvang en vir elkeen van die toergroep ’n yskoue koeldrank aangebied.

Ná ons besoek aan die graf val ons in die pad na ons volgende bestemming, maar maak eers ’n draai by die Augrabies-watervalle vir ’n vinnige afkoelsessie. Aangesien dit so ongelooflik warm was het ons besluit om te swem en piekniek te hou. Ongelukkig het die ape ook die geleentheid gebruik om saam te piekniek, letterlik. Net daar en dan is ons ’n pakkie koekies kwyt…

So hier kom ons Nous! Nous is ʼn piepkleindorpie met geen teerpad in sig nie en het die oulikste mense wat die lekkerste tuisgebakte brood verkoop. Ons het die aand om ’n lekker gesellige kampvuur deurgebring. Daar is selfs ’n bietjie geskoffel op Nous se eie sanddansvloer onder die sterre. Sommige mense het vroeër gaan slaap as ander, seker omdat hulle geweet het wat op ons wag die volgende aand. In die kerkie op Nous het elkeen vir hom ’n slaapplekkie gevind. Hoewel daar gereken is dat ’n kerkbank sagter is as die vloer, het die meerderheid van die toergroep darem snoesig geslaap.

Op die vyfde dag is almal se bagasie weer in die bussie gelaai en het ons vertrek na die Rebellieboom in Vanrooisvlei. Dis ’n ongelooflike mooi plek met ’n klipkoppie reg langs ons kampplek. Onder die kameeldoringboom is kamp opgeslaan en ons het rustig gesit en na die sonsondergang gekyk. Natuurlik moes die klipkoppie ook uitgeklim word en wat jy van daar bo af sien, kan nie in woorde omskryf word nie! Die Noord-Kaap se vlaktes lê myle vêr voor jou uitgestrek en hier en daar wei ’n skaaptrop verdwaald rond.

Braaivleisparlement. Uiteindelik weet ek waarom die meeste mense die vorige aand so vroeg gaan slaap het … dit was vet pret, van die redenasies tot standpunte inneem, asook om meer te leer oor wie en wat ons is. Natuurlik was daar ’n paar mense wat nie die reëls van die parlement nagekom het nie en strawwe is aan hulle uitgedeel.

By Vanrooisvlei moes ons afskeid neem van oom Louis, ons toergids. Hy was nie net ons toergids nie, maar ook iemand wat my só baie geleer het van die lewe, ons geskiedenis en soveel ander klein dingetjies waarby ’n mens so maklik verbyleef.

Terug in die bussie durf ons die voorlaaste dag aan, al die pad Orania toe. Natuurlik kan ’n toer nie altyd glad verloop nie en daarom het bussie nr. 1 gesorg vir ’n bietjie opwinding deur te verdwaal. Hoewel ons heelwat later in Orania gearriveer het as beplan, het ons wel Cantus gehou! Orania se mense het ons sommer gou tuis laat voel.

Die volgende oggend het ons begin met ’n lekker ontbyt, ’n braaipastei. Ongelukkig het die weer nie lekker saamgespeel nie, aangesien ’n sandstorm gewoed het. Tog is ons magies gevul en het ons by Duitsers in die dorp gaan bier proe wat dit self brou. Daarna het ons op ’n toer deur Orania gegaan en onder meer die standbeelde besoek. Die aand, ná die teleurstelling van die rugby, het Die Pienk Zebra-restaurant gesorg vir ’n lekker stukkie sebrafilet en die heel beste melkskommels in die Noord-Kaap.

Die laaste aand van die toer is afgesluit met kontiki om ’n kampvuur terwyl ’n koue wind gewaai het. Elkeen is mooi voorgesê wat hy op die toer verkeerd gedoen het terwyl daar behoorlik gelag is vir die strawwe wat uitgedeel is. Daar om die kampvuur het ek net weer besef dat hierdie mense is wat ek vir ewig as vriende sal beskou. Is dit moontlik dat hierdie mense so vinnig in my hart kon inkruip? AfriForum Jeug se toer het vir my bewys dat vriende soos familie kan word. Vriende soos hierdie is mense wat aan jou sy sal staan gedurende moeilike tye.

Ons het ons laaste dag op die toer met groot hartseer begroet. In ’n rekordtyd is daar opgepak en so is almal weer terug na hul onderskeie tuistes.

Ek het so baie lesse uit hierdie toer geleer, maar dat ’n stukkie van my hart in die Noord-Kaap saam sy geskiedenis agtergebly het, is ’n voldonge feit. Dit was ’n belewenis wat moeilik is om in woorde te omskryf. Foto’s is nie genoeg om al die mooi plekke te beskryf nie, maar die herinneringe sal my altyd bybly. AfriForum Jeug-toer 2016, jy was goed vir ons!

Teen die einde van die toer was dit ’n lang pad, maar definitief die moeite werd!

Riki Vosloo