Afrikaans-sal-bly_e-kaart_1_2

AfriForum Jeug stig beurs- en studiefonds vir Afrikaanse studente

AfriForum Jeug het ʼn beurs- en studiefonds gestig ten bate van Afrikaans en studente wat in dié taal wil studeer. Donateurs en alumni wat ʼn bydrae tot die fonds wil lewer, sal nie net ʼn verskil in Afrikaanssprekende studente se lewens maak nie, maar ook ʼn verskil in die bevordering en ontwikkeling van Afrikaans teweegbring.

Die fonds is gestig nadat die Universiteite van Stellenbosch (US), Pretoria (UP) en die Vrystaat (UV) verlede week besluit het om Afrikaans as onderrigmedium af te skaf.

“Dié universiteite het dit duidelik gemaak dat hulle nie daarin belangstel om inheemse tale en moedertaalonderrig te bevorder nie. AfriForum Jeug moedig donateurs en alumni wat in dié universiteite belê en ten gunste van Afrikaans as onderrigtaal is, om hul beleggingsbesluite te heroorweeg,” sê Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale projekkoördineerder.

“Die fonds wat deur AfriForum Jeug gestig is, sal onafhanklik deur Helpende Hand bestuur word en nie aan politieke druk toegee nie,” voeg Bernard Pieters, AfriForum Jeug se Maties-kampuskoördineerder, by.

AfriForum Jeug het onlangs ook aangekondig dat vier Afrikaanssprekende studente aan die UP, UV, US en Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom elk ʼn beurs ter waarde van R20 000 kan wen. Om in aanmerking daarvoor te kom, kan studente hul naam en die naam van die kampus waar hulle studeer na 32687 SMS (R1).

Alumni of donateurs wat tot AfriForum Jeug se studiefonds wil bydra, kan ʼn e-pos aan Evalna Pieterse by evalna@afriforum.co.za stuur.