AfriForum Jeug steun verwydering van Wits VSR-president ná rassistiese uitlatings

AfriForum Jeug ondersteun die Suid-Afrikaanse Unie van Joodse Studente in hul eis om die Wits Universiteit se VSR-president, Mcebo Dlamini, te laat verwyder ná sy rassistiese uitlatings op sosiale media en ander nuusplatforms. 

Dlamini het op eNCA sy haat teenoor witmense duidelik gemaak en bankvas by sy standpunt, “dat elke witmens ʼn element van Hitler bevat”, gestaan. Volgens Dlamini is alle witmense vol haat en rassisme en het bloed op hulle hande.

“Ons is bly dat prof. Adam Habib, Wits se visekanselier, ʼn ondersoek van stapel gestuur het om te kyk of Dlamini dissiplinêr aangekla kan word. Dubbel standaarde is aan die orde van die dag by verskeie groot universiteite, waar slegs rassisme teenoor swart studente aangespreek word,” sê Monique du Randt, woordvoerder van AfriForum Jeug.

Die Joodse gemeenskap is ook ontsteld oor Dlamini se uitlating dat hy ʼn aanhanger van Hitler is, blykbaar op grond van dié Duitse leier se “charisma” en “organisatoriese vaardighede”. Ongeag die studente-unie se eis, toon Dlamini geen teken van berou nie.

“Dit is belangrik dat rassisme in alle tersiêre onderwysinstellings oor dieselfde kam geskeer word. Rassistiese uitlatings deur studenteleiers hits rassisme onder studente en die breër gemeenskap aan. AfriForum Jeug sien hierdie as ʼn direkte rassistiese aanval wat polities gerig is om rassehaat aan te vuur. Dit moet met erns aangespreek word,” sê Du Randt. 

AfriForum het verlede maand strafregtelike klagtes teen ses individue aanhangig gemaak wat mense op sosiale media-platforms aangehits het om plaasmoorde te pleeg, wit mense uit te moor of selfs beweer het dat hulle van voorneme is om dit te doen.