AfriForum Jeug staan voorgestelde naamsverandering van Cravenweek teen

AfriForum Jeug het vandag ’n skrywe aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gerig waarin hul die liggaam versoek om nie gehoor te gee aan die voorgestelde naamsverandering van die Cravenweek-rugbytoernooi nie. Hiermee saam het die jeugorganisasie ’n vergadering met Mark Alexander, president van SA Rugby, versoek. Dié versoek volg nadat ’n groep oudrugbyspelers Saru versoek het om die Cravenweek se naam te verander.

“Dit is ironies dat die spelers deel vorm van die ou nierassige Saru, maar nie ’n woord teen die hedendaagse kwotastelsel in rugby uitspreek nie. Die groep is ongelukkig omdat ras hul destyds van sekere geleenthede ontneem het, maar verwys geensins na die hedendaagse diskriminasie nie. Hul optrede skreeu dubbele standaarde,” sê Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug.

Dit is belangrik om sekere feite uit te lig aangaande Danie Craven:

  • Craven het in die laat 1980’s na Harare gereis om ’n vergadering met die leiers van die ANC te hou. Die doel van dié vergadering was om ’n enkele rugbyvereniging op die been te bring. Dit was die eerste stap in die vorming van ’n verenigde rugbyliggaam, naamlik die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie (Sarvu).
  • Craven het ’n groot rol gespeel in die bekendstelling van die eerste nierassige toernooi in Suid-Afrikaanse sport. Dit staan bekend as die Cravenweek-rugbytoernooi wat in 1964 van stapel gestuur is en spelers van alle rasse betrek.

“Dit is dus duidelik dat Danie Craven geensins ’n voorstander van apartheid of rasgebaseerde sport was nie, maar wel ’n voorstander van rugby en die ontwikkeling van die spel. Erken en eer Dok Craven vir sy bydrae tot rugby. Moenie teen hom diskrimineer weens die tyd waarbinne hy geleef het nie,” sluit Maree af.

Gee AfriForum Jeug die mandaat om hierdie naamsverandering namens jou teen te staan: SMS “Cravenweek” na 32687 (R1).