AfriForum Jeug skep nuwe diskriminasie-klagtekanaal met nuwe webwerf

AfriForum Jeug het vandag sy splinternuwe webwerf bekendgestel wat aan jongmense die geleentheid gee om klagtes in te dien oor diskriminasie, insidente van rassisme, die algehele skending van menseregte en taal.

“AfriForum Jeug ontvang jaarliks talle klagtes van studente, lede én nielede, oor ʼn wye spektrum probleme, en daarom het ons besluit om dit so maklik as moontlik te maak vir studente om hulle probleme onder ons aandag te bring,” het Eduan Dupper, woordvoerder van AfriForum Jeug, gesê.

Die webwerf bied ook aan mense die geleentheid om te sien waarmee AfriForum Jeug besig is, en die nuwe gebeure-kalender bring webwerfbesoekers op hoogte van dít wat die AfriForum Jeug-studente beplan. Jongmense kan ook aansluit as hulle wil betrokke raak by die organisasie, sy veldtogte en aksies.

“AfriForum Jeug moedig die publiek aan om gevalle waar hulle regte moontlik geskend word aan te meld en ook om aktief betrokke te raak by ons veldtogte,” het Dupper afgesluit.