uv-2-scaled
| DeurAfriForum

Universiteit van die Vrystaat moet dringend ondersoek instel oor rassistiese lesing

AfriForum Jeug het vandag ’n dringende brief aan prof. Francis Petersen, visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV), gerig om te eis dat daar ondersoek ingestel word oor die UV-dosent dr. Pedro Mzileni se rassistiese lesing van 25 Julie 2023. Dit kom kort voor die omstrede dosent se beplande opvolg-lesing môre (17 Augustus). Die brief stipuleer duidelike redes vir dié versoek, omdat AfriForum Jeug kennis dra van Mzileni se vorige lesing as gasspreker waar hy rassistiese uitlatings gemaak het wat grens aan haatspraak. Sy verdelende retoriek het voorgekom asof dit daarop gemik was om die vure van rasseskeiding en vyandigheid aan te wakker.

Mzileni het op 25 Julie LLB-tweedejaarstudente van Suid-Afrikaanse inheemse reg aan die UV toegespreek oor die tema kolonialiteit, sosiale geregtigheid en konstitusionalisme, maar sy lesing was belaai met ’n reeks diep opruiende en bevooroordeelde opmerkings wat rasseverdeling en vyandigheid aanvuur. Hy het onder meer gesê dat wit mense die vyand is en na bruin mense en Asiërs as “deputy white people” verwys. Mzileni het gesê dat hy verder wil uitbrei oor hierdie onderwerp by ’n volgende geleentheid. Die jeugorganisasie versoek nou dat die universiteitsbestuur sal verseker dat studente beskerm sal word teen nog ’n rassistiese lesing.

“AfriForum Jeug neem sterk standpunt in teen ideologies-verwronge en rassistiese inhoud wat op ons kampusse in studente se kele afgedruk word. Ons eis dat die Universiteit van die Vrystaat dringend optree om te verseker dat Mzileni nie môre weer verdeeldheid en haat onder studente aanmoedig nie,” sluit René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug, af.