AfriForum Jeug oorhandig “Politics for Dummies” aan ANC Jeugliga

Die leierskap van AfriForum Jeug het die boek “Politics for Dummies” vandag aan die leierskap van die ANC Jeugliga by hulle kantore in Luthulihuis, Johannesburg, oorhandig.  Die boek is oorhandiging om die Jeugliga te maan om hulle “radikale en onverantwoordelike” uitlatings en dreigemente stop te sit.

Volgens Ernst Roets, Nasionale Voorsitter van AfriForum Jeug, is dit nodig dat die ANC Jeugliga onderrig moet word in die basiese beginsels van ʼn vreedsame demokrasie.  Roets het gesê dat AfriForum Jeug bekommerd is oor die politieke koers wat die Jeugliga probeer inslaan deur te dink dat hulle telkens hulle sin kan kry deur middel van intimidasie en dreigemente van moord en geweld.  Roets het ook sy kommer uitgespreek oor instansies soos die Menseregtekommissie wat nie bereid is om standpunt in te neem oor hierdie aangeleentheid nie en die feit dat daar nog geen stappe teen die leierskap van die Jeugliga geneem is nie.

Roets het die ANC Jeugliga herinner dat ʼn moderne en demokratiese regstaat gebaseer is op ʼn sosiale kontrak wat impliseer dat elkeen nie net kan doen soos hy wil nie en dat landsburgers mekaar in ag moet neem en akkommodeer.  “As die Jeugliga voel dat hulle opgekropte aggressie het, is hulle welkom om ʼn potjie verfbal saam met AfriForum Jeug te speel om van hulle frustrasies ontslae te raak,” het Roets gesê.