AfriForum Jeug ondersteun geskorste PUK-Huiskomitee

AfriForum Jeug ondersteun lede van die Karlien Dameskoshuis van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Dít, nadat die huiskomitee tydelik geskors is, nadat daar klagtes – wat nie aan hulle bekend gemaak is nie – teen hulle gelê is. Die jeugorganisasie is van mening dat die Universiteit onbillik teen die studente optree. 

“AfriForum Jeug speel ’n ondersteunende rol en het ons regspan genader om advies en bystand aan die studente te verskaf,” sê Henk Maree, Nasionale Voorsitter van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug wil nie die Universiteit in ’n swak lig stel nie, maar voer aan dat die studente geregtig is op ’n billike proses en dat hulle die reg het om te weet deur watter aanklagte hulle in die gesig gestaar word. Die inhoud van die klagtes het die media egter reeds bereik en skep die persepsie dat hulle skuldig is.

“Dit wil blyk of die klagtes te make het met beweerde ontgroeningspraktyke, en ons stem saam dat ongesonde studentetradisies veroordeel moet word, maar indien dit hier werklik die geval sou wees, moet aksie teen studente op ’n regverdige en billike wyse verloop,” het Maree afgesluit.