AfriForum Jeug maak 10 000 liter verskil én loods Beursfondskompetisie

AfriForum Jeug het vandag en gaan môre, Woensdag 13 Augustus, een duisend 10 liter groen emmers landwyd aan minderbevoorregte jongmense oorhandig. Elke emmer is gevul met skryfbehoeftes, nie-bederfbare voedsel en toiletware.

Die oorhandiging kom nadat AfriForum Jeug aan die einde van verlede jaar met die projek begin het. 130 emmers is toe aan die Louis Botha Kinderhuis in Pretoria oorhandig. Vanjaar gaan dié jeugorganisasie egter by 5 kinderhuise en jeugsorgsentra regoor die land ʼn verskil maak.

Die kinderhuise en jeugsorgsentra is:

  • Louis Botha Kinderhuis, Pretoria, Gauteng
  • Jakaranda Kinderhuis, Pretoria, Gauteng
  • Abraham Kriel Kinderhuis, Potchefstroom, Noordwes
  • Emmanuel Jeugsorgsentrum, Middelburg, Oos-Kaap
  • President Paul Kruger Jeugsorgsentrum, Reddersburg, Vrystaat

“Inskrywings open ook vir ons beursfondsstudiegeleenthede. Twee Graad 12 leerders wat by kinderhuise tuisgaan gaan die geleentheid kry om deur middel van die beursfonds verder te kan studeer,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug gesê.

Die groenemmer-inisiatief is deur AfriForum Jeug begin nadat dit aan die lig gekom het dat sekere kinderhuise nie die voldoende finansiële steun ontvang nie, weens subsidie-beleide. Selfs besighede wat kinderhuise ondersteun ontvang nie vol SEB-punte (swart ekonomiese bemagtiging), indien die kinderhuis nie minstens 75% swart kinders huisves nie.