Spotprent_Logo-Website

AfriForum Jeug loods #NoFace-selfiekompetisie teen rasseklassifikasie

AfriForum Jeug het vandag ’n kompetisie geloods waarin studente gevra word om ’n “selfie” op dié jeugorganisasie se Facebook-blad of Twitter te deel waarin studente hulle gesigte wegsteek, wat die simboliek oordra dat hulle gekant is teen rasseklassifikasie.   

“Ons moedig jongmense aan om op dié kreatiewe manier protes aan te teken teen rasseklassifikasie by universiteite, aangesien ons talle klagtes van studente kry teen wie daar op grond van ras gediskrimineer word, veral in Mediese en Veeartsenykunde Fakulteite,” sê Eduan Dupper, woordvoerder van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug stel ook ’n spotprent bekend wat op ’n humoristiese wyse die dubbelstandaarde by die hantering van rasse-aangeleenthede in Suid-Afrika aandui. (Sien spotprent aangeheg.)

“Die werklikheid is dat twee dames wat hulle gesigte swart verf erger gestraf word as instellings wat jongmense ‘n toekoms weier op grond van hulle velkleur. Dit is waarom ons dié veldtog begin om mense aan te moedig om #NoFace-foto’s van hulself te versprei en standpunt in te neem teen ras as kriteria in hoër onderwys.”

“Daar heers ’n oorsensitiwiteit oor sogenaamde rasse-voorvalle en terselfdertyd ’n gebrek aan sensitiwiteit vir menswaardigheid wanneer dit by regstellende-aksiebeleide kom,” sê Dupper.

Om vir die kompetisie te kwalifiseer moet jy onder die ouderdom van 35 wees en jy moet ’n foto van jouself, waarop jy jou gesig op ‘n kreatiewe manier wegsteek, op AfriForum Jeug se Twitter of Facebookblad plaas met die #NoFace-hutsteken.

Volg AfriForum Jeug op Twitter by @afriforumjeug en soek die jeugorganisasie op Facebook om op hoogte te bly van die veldtog.

AfriForum Jeug se #NoFace spotprent
AfriForum Jeug se #NoFace spotprent