Afrikaans-sal-bly_e-kaart_1_2

AfriForum Jeug loods beurskompetisie vir studente

As deel van AfriForum Jeug se nasionale veldtog om Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite te behou, het dié jeugorganisasie ’n kompetisie geloods waar vier studente elk ’n studiebeurs ter waarde van R20 000 kan wen. Dié beurse sal onderskeidelik aan Afrikaanse studente van die Universiteit van Pretoria, Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Stellenbosch toegeken word.

Om vir dié kompetisie in te skryf, hoef ingeskrewe Afrikaanse studente bloot hul naam en die naam van die kampus waar hulle studeer na 32687 te SMS (R1 per SMS). Die wenners sal lukraak gekies word en op 16 Mei 2016 op die onderskeie kampusse aangekondig word.

“Met dié beurs wil ons studente beloon wat in hul moedertaal Afrikaans studeer en hul verder aanmoedig om hul studies in dié taal voort te sit,” het Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale projekkoördineerder, gesê.

“AfriForum Jeug het sy veldtog vir die behoud van Afrikaans op kampusse begin deur studente daarvan bewus te maak dat dit hul grondwetlike reg is om onderrig in hul moedertaal te ontvang. Studente moet die waarde daarvan besef en die vryheid hê om in Afrikaans te kan studeer.”

AfriForum Jeug is van mening dat studente nie voldoende oor hul grondwetlike regte ingelig is nie en dat universiteitsbesture studente se regte skend deur eentaligheid in ’n diverse samelewing te probeer afdwing en toepas.

Dié jeugorganisasie plaas elke week ’n nuwe pamflet op hul webtuiste, wat ook op kampusse uitgedeel word om studente oor hul grondwetlike regte in te lig.