20160110_213053-scaled

AfriForum Jeug-lede onregmatig gearresteer vir Kerkstraat se naamherlewing

Vyf AfriForum Jeug-lede is Sondagaand onregmatig deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens gearresteer. Dít volg nadat die studente saam met ’n groep van sowat 40 ander studente WF Nkomo-, Stanza Bopape- en Helen Josephstraat met die korrekte Kerkstraat-naamborde laat herleef het. Daar is sowat 49 bordjies in Kerkstraat opgesit.

“Beamptes van die Sunnyside-polisiestasie het gesê hulle arresteer AfriForum Jeug-lede vir ‘waarmee hulle ook al besig is’. Niemand het die studente se regte voorgelees nie en hulle is vir sowat twee ure by die polisiestasie aangehou sonder enige aanklag of verduideliking,” het Ian Cameron, AfriForum Jeug se woordvoerder, gesê.

Cameron het bygevoeg dat AfriForum se prokureur met sy aankoms by die polisiestasie ook geen toegang tot AfriForum Jeug-lede gegee is nie en dat die polisie geweier het om met hom te praat.

“Toe ons op ’n verduideliking oor die arrestasie aandring, het die polisielede hardhandig begin raak en ons begin rondstamp. Ons lede was toe reeds in die selle opgesluit,” het Cameron gesê.

Cameron meen dat die Sunnyside-polisiebeamptes AfriForum Jeug se saak egter versterk het, juis omdat beamptes op grondvlak die politiese ideale van die ANC ondersteun en dus oor politieke en onwettige arrestasies swyg.

AfriForum Jeug oorweeg om sake van saakbeskadiging, aanranding en onregmatige arrestasie teen dié polisiebeamptes te bring.

AfriForum Jeug vra dat die publiek hul steun vir die behoud van Pretoria se straatname sal wys deur “straat” na 32687 te SMS. SMS’e kos R1.