AfriForum Jeug kry nuwe Nasionale Voorsitter

Na afloop van AfriForum Jeug se jaarlikse re-organisasie is Henk Maree as Nasionale Voorsitter van AfriForum Jeug aangestel. Maree neem hierdie posisie oor by Charl Oberholzer, wat tot Kommunikasiebestuurder by AfriForum bevorder is. Sowat agt nuwe bestuurslede is tot die nasionale bestuur van AfriForum Jeug verkies. Eduan Dupper is as Ondervoorsitter van AfriForum Jeug aangestel.

“Dit is `n groot voorreg en eer, maar ek sien uit na die nuwe uitdagings wat voorlê. Ek het groot skoene om vol te staan maar glo ons het die ondersteuning om net verdere hoogtes te bereik,” het Maree gesê.

Volgens Maree speel AfriForum Jeug ʼn kardinale rol onder jongmense in Suid-Afrika en gaan hy hom veral daarop toespits om diskriminerende beleide waaronder jongmense gebuk gaan, met groot ywer teen te staan.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir kommunikasie, jeug en opleiding het albei hierdie aanstellings as ’n reusesprong vir AfriForum bestempel. “Charl het sy leierskap en bestuursvermoë nie net as nasionale voorsitter van AfriForum bewys nie, maar ook in die verskeie ander leiersposisies wat hy al beklee het, waarvan die presidentskap van die verteenwoordigende studenteraad by die Universiteit van Pretoria maar net een voorbeeld is.”

Roets het bygevoeg dat Maree nog diep spore gaan trap en dat hy die ideale persoon is om AfriForum Jeug na nuwe hoogtes te neem.