AfriForum Jeug en AfriForum doen voorlegging aan VN Forum vir Minderheidsaangeleenthede

Verteenwoordigers van AfriForum en AfriForum Jeug doen vandag voorleggings aan die tiende sitting van die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland.  Die tema van vanjaar se sitting is jeugkwessies en sluit onder meer kwessies in soos onderwys, die jeug se deelname aan openbare kwessies en benutting van die media om hulle minderheidsregte te bevorder.

Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, is deelname aan hierdie byeenkoms van groot belang.

“Dit is ’n platform waar minderhede en hul burgerlike instellings ’n geleentheid kry om die vraagstukke wat hulle in die gesig staar nie alleen onder die VN se aandag te bring nie, maar ook aan internasionale liggame en drukgroepe bekend te stel. Netwerke word gebou en beste praktyke ondersoek wat die bevordering en beskerming van regte aanbetref.”

Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, stem saam dat deelname aan die forum se werksaamhede noodsaaklik is. “Ons benut spreekbeurte by die forum, asook die indien van ’n verslag om duidelik te maak op watter wyses daar teen ons jeuglede gediskrimineer word en hoe die owerhede mense van toekomsgeleenthede beroof deur byvoorbeeld die afdwinging van eentalige onderwys, kwotastelsels en ’n program van regstellende aksie sonder ’n afsnypunt”.

Vanjaar het AfriForum en AfriForum Jeug ook toestemming van die VN om ’n kantlynbyeenkoms tydens dié sitting aan te bied. Dit vind vandag van 14:00 tot 15:00 (Suid-Afrikaanse tyd) plaas. Besonderhede oor die voorleggings en kantlynbyeenkoms sal deur AfriForum en AfriForum Jeug se sosialemediakanale bekend gemaak word.