AfriForum-Youth

AfriForum Jeug eis verskoning van pres. Zuma

AfriForum Jeug het vandag ʼn protesaksie by die Uniegebou in Pretoria gehou as deel van hulle #dankieJan-veldtog. Dié veldtog het verlede week in Kaapstad afgeskop tydens die oorhandiging van ʼn eisbrief aan die departement van kuns en kultuur. AfriForum Jeug is van mening dat pres. Zuma aanspreeklik gehou moet word vir sy onverantwoordelike uitlatings dat die land se moeilikheid met die koms van Jan van Riebeeck begin het.

“Ons voel die president is aandadig aan die vernietiging, afbreek en beskadiging van standbeelde wat nou regoor die land plaasvind. Hy moet sy stellings oor Van Riebeeck terugtrek en leierskap toon deur die situasie te ontlont. Die president behoort ook die voorbeeld te stel wat erfenisbewaring van alle Suid-Afrikaners se erfenis betref. Ons verwag dat hy sy uitlatings terugtrek en om verskoning vra,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Die plakkate is aan die palissades rondom die Uniegebou se grasperke gehang. AfriForum Jeug sal voortgaan om veldtogte te dryf om Afrikaner-erfenis te bewaar.

IMG_20150416_173541AfriForum Youth