Ou_Lettere_f_Tuks-731x477-1

AfriForum Jeug eis uitstel van VSR-verkiesing by Tukkies ná aanranding

’n Verteenwoordiger van AfriForum Jeug is vandag by die Universiteit van Pretoria deur ’n lid van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) se UP-studente-afdeling tydens die 2017 verkiesing  van die universiteit se verteenwoordigende studenteraad (VSR) aangerand.

Dié voorval tesame met verskeie oortredings van verkiesingsreëls deur ander partye wat aan die verkiesing deelneem, noop AfriForum Jeug om te eis dat die verkiesing uitgestel word.

AfriForum Jeug is van mening dat ’n vry en regverdige verkiesing nie meer moontlik is nie weens die beweerde intimidasie van kiesers en die ondeurdagte optrede van die universiteit se onafhanklike verkiesingskommissie (OVK).

“Die universiteit se OVK het deur die loop van die verkiesingsproses die verkiesingsreëls na willekeur gewysig, terwyl daar ook nie voldoende op AfriForum Jeug se klagtes gereageer is nie. Die klagtes oor die universiteit se OVK is ook na die onafhanklike moniteringsliggaam verwys,” sê Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug.

Maree het enkele klagtes uitgesonder om te staaf waarom die verkiesing nie meer voort kan gaan nie. Dit sluit in:

  • Die beweerde aanranding en intimidasie van UP-studente;
  • Verteenwoordigers van die universiteit se OVK wat na bewering verskillende stelle reëls vir die verkiesing aan verskillende partye deurgee wat tot onregverdigheid lei;
  • Die beweerde inkonsekwente toepassing van verkiesingsreëls deur verteenwoordigers van die OVK;
  • Die universiteit se OVK se beweerde versuim om op te tree nadat klagtes rondom die verbreking van verkiesingsreëls ingedien is.

“AfriForum Jeug kan nie op die kantlyn sit en toekyk hoe ’n sogenaamde onafhanklike kommissie die reëls toepas soos dit hulle pas nie. Die universiteit se OVK is veronderstel om toe te sien dat ’n vry en regverdige verkiesing geskied. Wat ons tans sien gebeur, voldoen nie aan hierdie ideaal nie,” sê Julius Landman, Tuks-verteenwoordiger van AfriForum Jeug.

Kyk ’n video-insetsel van die insident hier: https://wetransfer.com/downloads/5a7806359a68b46f748ed733732a35db20170822140628/a0ff427e03c74f1054e14a0055aef9f920170822140628/5289a4