AfriForum Jeug eis beskerming van Afrikaner-erfenis

AfriForum Jeug het vandag – as deel van hul veldtog: #dankieJan – ’n memorandum aan die Parlement oorhandig waarin hulle die beskerming van Afrikaners se erfenis versoek. Die memorandum moet deur die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, onderteken word.

Die jeugorganisasie het op hul pad na die Parlement by verskeie standbeelde, insluitend dié van Jan van Riebeeck, gestop en bordjies van ondersteuning om hul nekke gehang.

“Wedersydse erkenning en respek is nodig om vooruitgang in ons land te maak. Dit beteken dat alle kulture en erfenisse deur almal respekteer moet word. Die Afrikaner wil ook hê óns erfenis moet vir toekomstige geslagte bewaar word, sodat hulle ook uit die verlede kan leer,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Die #dankieJan-veldtog het Maandag afgeskop, nadat die standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria gevandaliseer, en verskeie ander geskiedkundige beelde in die land geteiken is.

“Die geskiedenis moet korrek oorgedra word. Dit gebeur al meer dat Afrikaners vanuit ’n geskiedenisperspektief as misdadigers en gronddiewe uitgebeeld word. Desnieteenstaande is apartheidsvryheidsvegters beslis nie die onbevlekte helde soos hulle deur die regering uitgebeeld word nie.” 

“As die Afrikaner-erfenis nie vir die regering belangrik is nie, sal ons jeuglede ons erfenis self bewaar,” het Maree afgesluit. 

Die jeugorganisasie gee minister Mthethwa drie weke om die memorandum te teken as ʼn skriftelike verbintenis dat die regering die Afrikaner se erfenis belangrik ag.

Lees die memorandum aan Parlement  HIER