AfriForum Jeug bou voort op suksesse in 2015

’n Vol jaar met verskeie projekte ter bevordering van AfriForum Jeug se doelwitte word beplan.

Dit sluit in hofsake, die jaarlikse groenemmerprojek vir behoeftige kinderhuise wat weens swart ekonomiese bemagtiging nie meer befondsing kry nie, die herlewing van afgeskafde studente-tradisies en kampe vir skoliere.

AfriForum Jeug is van mening dit is noodsaaklik om uitdagings soos regstellende aksie en die vertrapping van gesonde studente-tradisies onder die algemene publiek se aandag te bring en oplossings vir die probleme te vind.

AfriForum Jeug beplan ook vanjaar om ’n nuwe tak by die Elsenburg Landboukollege in die Wes-Kaap te stig ten einde studente by te staan in hulle strewe om Afrikaans as onderrigmedium by dié kollege te behou.

2014 se suksesse, soos die oorwinning in die studenteraadsverkiesing op Tukkies, bied ’n goeie grondslag om vanjaar op voort te bou. Ons beoog ook om vanjaar vir die eerste keer formeel aan die studenteraadsverkiesing op Kovsies deel te neem om studente op die manier by die hoogste struktuur van studentebelange te verteenwoordig. Dit is noodsaaklik as gekyk word na verskeie gebeure die afgelope jaar op die Kovsie-kampus.

As jeugorganisasie wat ’n tuiste bied vir jong denkende leiers wat hulle nie laat boelie deur politieke agendas nie en wat weier om terug te staan vir ongeregtighede in die naam van sogenaamde ‘transformasie’, sal ons aanhou om die stem vir studente en jongmense te wees wat soms voel of hulle nie meer gehoor word of tot ’n bepaalde kultuurgroep mag behoort nie.

AfriForum Jeug sal nie huiwer om standpunt in te neem teen politieke inmenging in jongmense se onderrig en diskriminerende beleide soos rassekwotas nie. Ons is nie skaam vir wie ons is nie en wil ’n positiewe verskil maak in die land waarvoor ons lief is. Nie net vir onsself nie, maar ook vir ons nageslagte.

Deur Eduan Dupper, nasionale ondervoorsitter van AfriForum Jeug