PHOTO_BLACKFACE_060814-e1408087719763

AfriForum Jeug bevraagteken UP optrede

AfriForum Jeug het vandag die Universiteit van Pretoria (UP) se reaksie op die foto van twee damestudente wat hulle gesigte swart geverf het bevraagteken, omrede tugstappe oor ʼn insident wat by ʼn private funksie plaasgevind het ʼn inbraak op dié studente se privaatheid maak.

“Daar moet ʼn duidelike lyn wees tussen ʼn persoon se privaatlewe en dit wat werklik die beeld van die UP skade kon berokken. Dit is ʼn gevaarlike roete as ʼn universiteit moet optree teen elke student wat dalk teveel mag drink, ʼn verkeersreël oortree of in ʼn bakleiery buite die universiteit betrokke raak. Om die beeld van die UP as rede voor te hou is hopeloos te wyd en gee eerder die universiteit net geleentheid om selektief op te tree teen studente se privaatlewens soos hulle goed voel,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

AfriForum Jeug is van mening dat die insident uit verband geruk word deur belangegroepe wat hulle eie agendas dryf. Dit kom voor of die gevoel op sosiale media ook dieselfde is.

“Ons moet waak daarteen om enige en alle optredes dadelik aan rassisme toe te reken,” sê Maree.

“Die foto is beslis nie vergelykbaar met werklike rassistiese optredes soos ʼn ‘Kill the Boer’ pamflet nie,” voeg hy by.