Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

AfriForum internskap 2015: As hulle ons nie wil help nie, dan help ons onsself!

deur in Blog Hou ons hier dop op 13 August, 2015

Dit is ʼn jammerte dat ons nie altyd besef wanneer ons in die middel van ʼn groot oomblik in ons lewens is nie. Eers weke of maande ná die tyd besef ons dat ons op daardie oomblik besig was met iets wat vir die res van ons lewens ons perspektief verander het, met iets wat ons vir die res van ons lewens as kampvuurgesprekspunt gaan gebruik. (Ek weet nie of die woord kampvuurgesprekspunt ʼn amptelike woord is nie, maar as dit nie is nie: Geagte Afrikaanse taal, dit is ʼn plesier.) Vir my was AfriForum se internskapprogram gedurende Junie en Julie 2015 só ʼn oomblik – ʼn oomblik wat my sal bybly solank as wat my geheue werkend bly. (Daar is wel dementia in ons familie, so dit is dalk goed dat ek hierdie dinge nou neerskryf…) 

Met ons aankoms in Centurion was ons 12 internskapstudente so effens onseker van onsself en ons doel by AfriForum. Ons het geweet dat ons ʼn verskeidenheid van dinge oor die volgende 13 dae sou doen, en ons was almal redelik seker dat dit lekker gaan wees, maar ʼn student in ʼn werkplek is mos gewoonlik maar so bietjie soos ʼn jakkals wat nie seker is of hy maar sy gat kan verlaat nie. Nietemin het ons almal mekaar binne ʼn paar minute leer ken en met Tiaan en Marike van AfriForum se departement gemeenskapsake wat ons vinnig en hartlik verwelkom het, het ons sommer in ʼn japtrap tuis en welkom gevoel. Die eerste aand se gesellige kuier by ʼn restaurant in Centurion het natuurlik ook nie skade gedoen nie…

Om elke stop van ons internskap te probeer bespreek, sal wees soos om die Nylrivier met ʼn suikerlepeltjie te probeer leegmaak, dus gaan ek eerder ʼn breë oorsig gee, wat natuurlik ʼn paar hoogtepunte ook insluit. Die eerste week was selfdoenweek en dit het behels dat ons 12 internskapstudente na alle uithoeke van die land gestuur is om spesifieke gemeenskappe te gaan bystaan met hul selfdoenprojekte. Ek en Bernard, ʼn mede-intern van Stellenbosch, beland toe saam met Stefan Pieterse, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Noord-Kaap. Ons het die eerste paar dae in Kimberley deurgebring waar ons ʼn begraafplaas skoongemaak het, die stad se strate saam met die plaaslike buurtwag gepatrolleer het en ʼn paar belangrike briewe aan belangrike mense oorhandig het.

Van daar af is ons na Kuruman, waar ons gehelp het om straatligte se gloeilampe te vervang asook om ʼn parkie skoon te maak. Ons het ook in Kuruman saam met die plaaslike buurtwag patrollie gery, wat ʼn wonderlike belewenis opsigself was. Dit was vir my ʼn riem onder die hart om te sien hoe mense nie sit en wag vir dienslewering nie, maar opstaan en hul eie toekoms vorm. Winston Churchill het per geleentheid die volgende gesê: “History will be kind to me, for I intend to write it.” Dít is presies die benadering van die AfriForum-lede waarmee ek te doen gekry het: Basta met ʼn regering wat sloer en sluip – as hulle ons nie wil help nie, dan help ons onsself!

Vanaf Kuruman is ons terug Centurion toe, waar ons die halfpadmerk van ons internskap tydens ʼn genotvolle Cantus-aand gevier het. Vir dié van u wat nie heeltemal seker is wat Cantus is nie, som ek dit graag in vyf woorde op: Sang, vreugde, bier, sang en bier – ek glo dit is ten volle beskrywend.

Daarna is ons Warmbad toe vir die naweek, waar ons die plaaslike buurtwag bygestaan het met ʼn massapatrollie, en ek moet eerlik wees, die koeëlvaste baadjie het my so ʼn klein bietjie soos iemand in ʼn film laat voel, vir die eerste keer in my lewe kon ek die uitdrukking “Skiet maar, mik net vir my hart”, gebruik – nie dat ek het nie, die aand was eintlik baie rustig, maar ek sê net, ek was dáái ou vir ʼn rukkie…

Ons laaste paar dae is gekenmerk deur werk en lesings; as ons nie besig was met ons projekte nie, dan was ons besig om meer te leer oor AfriForum, die organisasie se visie, en die verskillende fasette van die Solidariteit Beweging. Mnr. Flip Buys het in ʼn stadium opgemerk dat leierskap en opleiding dieselfde ding is, en na afloop van ons lesings en inligtingsessies, het ek al hoe meer begin verstaan wat hy bedoel. Ek sê dit, want van alles wat ek ervaar het, hou ek net herinneringe oor, goeie en waardevolle herinneringe, maar niks meer as dit nie. Van die opleiding wat ek ontvang het, hou ek egter baie meer oor – naamlik kennis. Kennis is die enigste vorm van bemagtiging, want niemand kan ooit kennis van jou wegneem nie.

Ter afsluiting merk ek graag op dat ek uiters dankbaar teenoor AfriForum is vir julle moeite en deernis met ons as internskapstudente en met die saamstel van die internskapprogram. Maar selfs meer as dit, ʼn groot dankie dat julle besef hoe belangrik die jeug van hierdie land is, en dat julle bereid is om in ons te belê – doen so voort, want voor in die wapad skyn daar wel ʼn lig.