AfriForum en AfriForum Jeug werk saam om water te toets

AfriForum en AfriForum Jeug se interns het op 27 Junie 2019 die water van sowel die Baviaans- en Rooiwalrioolaanleg as die Moreleta-spruit getoets vir E. coli, fekale kolivormige bakterieë en hoë vlakke van nitrate en fosfate.

Hierdie aksie vorm deel van AfriForum se jaarlikse landswye blou-en-groendruppelprojek, en is van stapel gestuur om die interns bloot te stel aan die werk wat AfriForum se omgewingsakeportefeulje verrig. Die rioolwerke word hierdeur gedwing om aan die standaarde te voldoen wat gestel is om die suiwering van riool te verseker.

“Ek het baie geleer oor hoe water gereguleer moet word en watter impak dit op die ekostelsel het as dié standaarde oorskry word,” Rudolph de Villiers.

Volgens Chané Venter, ook ’n intern, is die publiek nie altyd bewus van hierdie prosesse nie en moet bewusmakingsveldtogte gevoer word om mense in te lig.

AfriForum se omgewingsakeportefeulje is passievol oor die bewaring van skaars natuurlike hulpbronne soos water en die volhoubare gebruik daarvan.